windverwaaid

vandag voel ek so effens windverwaaid (ek blameer gister se groot stofstorm hier deur Bloemfontein)
so asof die stofstorm alles in my ook kom deurmekaar waai het. of dalk net kom los waai het.
windverwaaid en verdwaald staar ek na wat om my aangaan, en niks maak regtig sin nie.

so asof iemand alles wat ek gedink het vas was gevat het & in die lug gegooi het…
nou wag & kyk ons hoe dinge val (& of dit weer in plek sal val) & probeer gereed staan om iets te vang & te red indien dit ooit sou moontlik wees

hierdie mallemeule jaar is besig om my rond te skommel, so asof dit wil seker maak ek weet waarop ek staan, dat ek moet kyk & besef of my fondasie vas is & reg gelê is… dit waarop ek hoop en alles bou.

so asof gister se stofstorm my wou kom herinner aan Matteus 7: 24 – 27, waar Christus praat van die wyse en dwase bouers. of ek op die Rots of op sand my alles bou.
want alles gaan geskud word & dit wat nie in lyn is, of van God af is nie sal verkrummel & aan skerwe op die grond bly lê

so ek weet ek staan in ‘n reinigings proses (sodat alles geskud sal word & in lyn sal moet kom). emosioneel is dit nou nie meer prettig nie, maar ek kan kies hoe ek deur die proses gaan & hoe ek gaan reageer.

soms is dit nodig om in sulke tye verskillende perspektiewe te kry vanaf mense wat nie noodwendig saam in die situasie staan nie. dit bly my keuse (onder leiding van die Heilige Gees) oor wie ek kies om saam deur hierdie proses te gaan, wie ek om raad vra & saam met wie ek in verbondsverhouding sal staan

ag & vandag mis ek sommer net die see… om op die strand te sit, na die branders te staar & te luister & voel hoe hulle breek & dalk sommer alles in my ook los te breek & skoon te was.

Advertisements

so bietjie Afrikaans op my spoegblad

en so, terwyl ek ‘n vriendin met haar Afrikaanse mondeling help (wat gaan oor Afrikaans) sit ek en wonder oor die taal van my hart… waar dit vandaan kom, wat dit lekker maak, asook die sogenaamde donker kant van Afrikaans wat die taal so sleg maak…

iets wat my nog meer verbaas het terwyl ek so sit en wonder oor alles wat ek wil neerpen oor hierdie taal, is hoe min Afrikaanse stukke ek nou eintlik plaas op die verskillende sosiale netwerke…

so op ‘n punt van orde, waar kom Afrikaans nou eintlik vandaan?
ek’t nog altyd geweet Afrikaans is ‘n samesmelting van verskillende tale in een prettige pot hier aan die onderpunt van Afrika. (Afrikaans kom van Afrika…) ja ne…
hierdie gewonder het my toe gaan laat loer na wat verskillende web bladsye te sê het oor Afrikaans se oorsprong (gebruik gerus google om te soek – oorsprong van Afrikaans)
die tale wat saamgesmelt & vermeng is om Afrikaans te vorm sluit onder andere Nederlands, Maleis, Portugees, Frans, Duits, Engels en ander Afrikatale in. en dan is Afrikaans boonop nog ‘n taal wat steeds verander, vernuwe en bly groei.
as mens gaan kyk na die verskillende maniere wat gebruik is om Afrikaans te beskryf is daar ‘n paar interessante benamings tussen in. van hoe daar neergesien is op die taal en later ook dan as die taal van die onderdrukker uitgekryt is..

ek dink juis oor die feit dat Afrikaans deur so baie as die taal van die onderdrukker gesien word dat dit ‘n onaangename nasmaak in hul monde los, oor dit wat Afrikaanse mense aan ander gedoen het. en tog, gaan kyk, dan mag ek netsowel sê Engels is die taal van die onderdrukker as gevolg van al die gruweldade wat die Britse ryk aangevang het… ja, Engels is dalk die sogenaamde wêreld & ekonomiese taal, maar hoekom staan die Sjinese en die Russe nie terug om eerder in hul eie taal besigheid te praat nie? laat mens wonder…
ook as ek loer na sekere Europese lande – met Afrikaans is dit makliker om sekere tale hier en daar op te tel… en tog het Engels al heelwat woorde van Afrikaans geleen en deel van hul taal gemaak (want daar is net nie ‘n ander woord om dit mee te kan sê nie)

ja, dalk is ek bevooroordeeld oor hoekom Afrikaans eintlik ‘n lekker taal is.
daar is sekere woorde & sinsnedes wat mens net nie kan vertaal nie
(ek daag jou uit probeer gou – die hond loop onderdeur die tafel – vertaal)

ek dink en droom en dig in Afrikaans.
dit is die taal wat my hartsnare roer en my mondhoeke terg met ‘n glimlag wat verbreed totdat ‘n gelag losbars van diep uit my binneste. dit is ook die taal wat my emosies soms laat ontrafel so dat ek dit nie kan keer as dit in ‘n traandruppel teen my wang afrol en spore oor my wang laat nie.
in Afrikaans gee ek uiting aan die wonder gedagtes wat kronkelpaaie in my gemoed uittrap en deur my brein hardloop.
al maak ek misbruik van Engels om mee oor die weg te kom met van my vriende, kennisse, kollegas & besigheids kontakte, bly Afrikaans die taal van my hart.