‘n kort ietsie van Kersfees….

daardie oomblik wat dit inskop dat dit oor 4 slapies Kersfees is…

ek kan nie regtig sê dat ek al die Desember in ‘n Kersfees bui was nie, amper glad nie… maar daar is nou maar seker net iets daaraan om ‘n Kersboom op te slaan en almal aan ‘n tak te hang (elke familielid het ‘n kersversiering met hul naam op, so ja, in ons huisie hang elkeen letterlik aan ‘n tak) en daar is ook reeds persente onder die boom…

weet nie noodwendig of daar persente van my aan my Wolf en van hom aan my daar onder gaan beland nie (sien die persente is wat ons reeds van ander ontvang het, en ja ek en my Wolf brand van nuuskierigheid om te weet wat toegedraai is), MAAR ek’t ‘n blinkgat plan… gaan myself met ‘n strikkie toedraai en vir my Wolf onder die boom Kersoggend sit en wag…. maar dit’s ook moeilik, hy is gewoonlik voor my wakker …

daar is egter ‘n klein bekommernis, dat ons katkind die boom gaan invaar en vir haar ‘n persent gaan vang (en dat die boom dan gaan skade ly)… sal maar mooi met haar praat en verduidelik waaroor die boom en sy betekenis gaan… dit’s belangrik om te weet waaroor Kersfees gaan, en dat daar wel ‘n dieper betekenis en ryke geskiedenis aan is…

die ys in my glas smelt en ek vermoed ek kort nog vloeistof….
groetnis vanaf my kant van die skerm

Advertisements

in, of is dit nou op my eie wolkie

as hierdie dalk so effens deurmekruis is, kan dalk wees oor ek so effens deurmekruis is tans…. op so effense wolkie na my eerste begin, my eerste klein oorwinning, van ons huisie se regruk plan…. sien ons het doelwitte vir elke dag, die groot springclean in stukkies opgedeel om dit nie so oorweldigend te laat voel nie… en ek voel heel gelukkig met my eerste klein oorwinning….

maar die wolkie kan wees agv die skoonmaakmengsel wat ek dalk net dalk so bietjies te sterk aangemaak het…. (plus dan nog die effek wat pynpille op my sisteem het nadat dit my hoofpyn ‘n uitklophou gegee het)

hierdie was ‘n wille tuimeltrein rit van ‘n jaar (dink nie die rit het regtig gestop nie) met ‘n paar interessante lesse en klein oorwinnings wat eintlik groot oorwinnings was…

hierdie jaar het baie interessanthede gelewer…. die skuif van een werk na ‘n ander, drama by die werk (soms effens spanningsvol met tye, maar dit was altyd so dat ons steeds in al die ak en drama steeds kon grappies maak en die ligte kant van alles sien), leerkurwes tuis (en party kurwes is lekkerder as ander), daardie opstaan vir myself oomblik (vir wie ek is en waarin ek glo), ook om nederig onverskoning te vra en my aandeel raak te sien in ‘n donker duister situasie (en dan ‘n plan te maak om daaruit te leer), om te leer verstaan van wat dit beteken om werklik kwesbaar oop te staan voor geliefdes sodat hul inspraak in my lewe kan gee, en om weer iets van die vreugde van ander opbou te herontdek…

maar die jaar en sy draaie en lesse en leerkurwes is nog nie verby nie… en deel van my weet hier lê nog ‘n paar interessanthede voor… en tog is ek opgewonde oor dit wat voorlê 🙂

wonder skielik of die wyn wat my Wolf vir ons geskink het my wolkie nog prettiger en meer kreatief gemaak het… en ek dink ek kort iets om te eet ook…

so tot ek weer gedagtes op die skerm probeer vasvang, mag dinge aan daardie kant van die skerm geseënd gaan!

ek & my Wolf 

​erens op die langpad het ek myself verloor. 

jy’t my eensklaps onverwags gevind & my tuis gebring. 

jou hart het my huis geword & ek’t myself ook weer gevind. 

geseënd met soveel meer as wat ek ooit voor kon vra. 

‘n ware heer, ‘n kryger wat vir niks terug sal staan. een wat homself oor my ontferm & self soms harde liefde gebruik om sagte liefde duidelik te maak. 

wat ten koste van homself my op sy hande bly dra. 

ek’t jou wyf geword my Wolf, om jou rug toe te maak & jou hart te dra, om jou sterk te maak. 

saam jou sal ek die res van my vir altyd deel!